Ons belastingbetalersverenigings as gemeenskapsgebaseerde organisasies is geregtig om beswaar te maak teen ‘n munisipale begroting alvorens dit goedgekeur is.
Sodra dit egter goegekeur is, het ons geen verdere insette nie en kan ons dit slegs verwerp nie op emosionele gronde nie maar op regsgronde.
Die verskeie wetgewings is nou slegs in Engels uitgevaardig en sal daar verskeie kere na die Engelse terminologie met die nodige vertaling verwys word,
Die woord “must” word in meeste van die artikels gebruik en beteken niks anders nie as “moet”.
Waar die woord “must” gebruik word, beteken dit dat die munisipaliteit die bepalings daarvan moet nakom alvorens die begroting regsgeldig uitgevaardig is.
Gerieflikheidshalwe sal die volgender afkortings gebruik word wanneer daar na wetgewing verwys word, naamlik MSA en MFMA onderskeidelik verwysend na die Municipal Systems Act en die Municipal Finance Management Act.
Dit is ongelukkig so dat omstandighede van munisipaliteit na munisipaliteit sal wissel en kan daar nie ‘n vaste riglyn daargestel word nie – dit moet op grondvlak gedoen word,
Indien u agterkom dat van die wetlike bepalings nie nagekom is nie, is dit u volle reg om die begroting in sy geheel te verwerp.
Ons wil egter voorstel dat, indien u dit wel doen, u ‘n skrywe aan die LUR vir plaaslike regering asook die Minister van Finansies rig en duidelik stel hoekom u die begroting verwerp. Dit stel ‘n papierspoor daar.
Die Municipal Systems Act. (MSA)
Hoofstuk 4 van die MSA, welke vervat is in artikels 16 – 22, vervat riglyne wat deur die munisipaliteite nagekom moet word om te voldoen aan die vereistes van gemeenskaps-deelname.
Ek sal kortliks die kern van elke artikel bespreek
1. Artikel 16
1.1 Die munisipaliteit moet deelname deur die gemeenskap aanmoedig in
1.1.1 die voorbereiding, implementering en hersiening van die integrale
ontwikkelingsplan terme van hoofstuk 5 (van die MSA)
1.1.2 die vestiging, implementering en hersiening van die bestuursisteem in terme van
hoofstuk 6 (van die MSA)
1.1.3 die monitering en hersiening van die uitvoering daarvan insluitend die uitkoms en impak daarvan.
1.1.4 die voorbereiding van die begroting en
1.1.5 strategiese besluite in verband met die voorsiening van munisipale dienste in terme van hoofstuk 8 (van die MSA)
Kortliks beteken dit dat u as ‘n gemeenskapsgebaseerde organisasie moet kan insette lewer in voorgenoemde. Dit beteken meer as ‘n openbare vergadering waar voorgenoemde as ‘n uitgemaakte saak voorgestel word. In terme van artikel 17(2)(c) en (d) moet daar konsultasie sessies met erkende plaaslike gemeenskapsorganisasies plaasvind.
Hier is duidelik onderskeid getref tussen konsultasie en openbare vergaderinge. (sien artikel 17(2)(c) en (d) in hierdie verband).
Indien daar nie met u gekonsulteer is nie (wat skriftelik of persoonlik gedoen kan word), kan die begroting op hierdie gronde verwerp word.
2. Artikel 18 (MSA) stel dit duidelik dat die munisipaliteit inligting moet deurgee
oor die beskikbare meganismes, prosesse en prosedures om deelname aan te
moedig en te fasiliteer.
3. Artikel 19 (MSA) stel dit duidelik dat die munisipale bestuurder kennis moet gee
van alle openbare vergaderings.
4. Artikel 20 (MSA) stel dit duidelik dat die volgende vergaderings van die
munisipale raad oop vir die publiek moet wees, nl. vir bespreking van ‘n beoogde geintegreerde ontwikkelingsplan of enige wysiging daartoe; ‘n beoogde beheerstelsel of enige wysiging daartoe en enige besluit om ‘n dienslewerings-oorgeenkoms te sluit met ‘n onafhanklike diensleweraar.
5. Artikel 21 (MSA) behels kommunikasie met die gemeenskap en stel dit hoe dit
moet geskied.
6. Artikel 21A (MSA) stel dit duidelik dat alle dokumente welke openbaar gemaak
moet word (waaronder die begroting en geintegreerde ontwikkelingsplan inge-
sluit word) in die munisipale hoof- en satelietkantore beskikbaar moet wees asook
in die biblioteke.
Verder word daar voorsiening gemaak dat dit ook op die webwerf beskikbaar
moet wees
Indien die dokument nie op die webwerf beskikbaar is nie, kan die begroting heel moontlik op hierdie grond verwerp word. Veral in ag geneem dat die landelike gebiede ook nou ingesluit is en ‘n boer dalk nie elders die dokument kan besigtig
nie.
7. Artikel 21B bepaal dat elke munisipaliteit oor ‘n webwerf moet beskik en dat die
munisipale bestuurder dit moet bywerk.
8. Artikel 24 stel dit duidelik dat elke munisipaliteit ‘n enkele, insluitende en strategiese plan vir die ontwikkeling van die munisipaliteit moet daarstel
Binne veertien (14) dae nadat die plan aanvaar is, moet die munisipaliteit kennis gee aan die gemeenskap.
9. Artikel 26 noem die kernkomponente waaraan die geintegreerde ontwikkelings plan (GOP) moet voldoen.
10. Artikel 28 stel dit duidelik dat die munisipaliteit die plaaslike gemeenskap moet konsulteer alvorens dit die GOP goedkeur
11. Artikel 29 stel dit duidelik dat die gemeenskap gekonsulteer moet word en moet deelneem in die opstel van die GOP
12. Artikel 41 stel dit duidelik dat die munisipaliteit op ‘n gereëlde basis aan die gemeenskap moet rapporteer.
13. Artikel 42 stel dit duidelik dat die gemeenskap betrokke moet wees by die daarstel van gepaste sleutelaanwysers en uitkomsteikens vir die munisipaliteit.
14. Artikel 44 stel dit duidelik dat die inligting aan die algemene publiek openbaar gemaak moet word.
15. Artikel 74 stel dit duidelik welke voorskrifte nagekom moet word wanneer ‘n tariefbeleid daargestel word.
Subartikel (2)(c) stel dit duidelik dat arm huishoudings geregtig is op tariewe welke slegs bedryfs- en onderhoudskostes delg en spesiale tariewe of leeflyntariewe vir lae verbruik of vir basiese dienste en dan die direkte of indirekte metodes van subsidering van tariewe vir arm huishoudings.
Daar moet op gelet word dat hier geen voorsiening vir kruissubsidieëring is uit die dienste self nie. Dit word versterk deur die bepalings van subartikel 2(b), 2(d) en 2(e) en veral laasgenoemde.
Verder moet opgelet word na die bepalings van 2(i) wat dit duidelik stel dat die subsidering van arm huishoudings en ander kategorieë van verbruikers duidelik uitgespel moet word.
16. Artikle 75 is belangrik aangesien dit duidelik stel dat munisipaliteite die bywette vir die implementering en toepassing van sy tariefbeleid moet afkondig. Indien die bywette nie afgekondig is nie, is dit heel moontlik dat die begroting onwettig sal wees.
17. Artikel 75A is weereens belangrik want dit stel sekere vereistes waaraan voldoen moet word alvorens ‘n begroting regtens afekondig word.
Indien daar nie voorsiening gemaak is in die begroting vir ‘n tarief vir dienste nie, kan die munisipaliteit dit nie regtens afdwing nie.
Die tariewe moet deur die meerderheid van die raad aanvaar word andersins is dit ook nie regsgeldig nie.
Nadat die munisipale besluit oor die tariewe geneem is, moet die begroting vir ten minste 30 dae prominent vertoon word en kennis van die tariewe moet in ‘n koerant gepubliseer woord.
18, Artikel 95 is weereens belangrik vir die doeleindes van ‘n belastingbetalers vereniging, want dit stel sekere vereistes aan die munisipaliteit, o.a.
18.1 verbruikers moet terugvoering kan gee oor die kwaltiteit van dienste.
18.2 redelike stappe neem om te verseker dat verbruikers op hoogte gehou word van die kostes verbonde aan die lewering van dienste, die noodsaaklikheid daarvan om vir dienste te betaal en die manier waarop fooie gehef vir dienste, aangewend word.
18.3 redelike stappe neem om te verseker dat waar dienstekoste aan verbruik gekoppel word, die verbruik deur akkurate meters gemeet word.
18.4 dat verbruikers gereëlde en akkurate rekeninge ontvang wat die basis aandui waarop die bedrag verskuldig, bereken word.
18.5 meganismes daarstel waardeur navraag oor rekeninge gedoen kan word en appelprosedures daarstel waardeur verbruikers onmiddellike regstelling op foutiewe rekeninge sal kry.
19. Artikel 96 bepaal dat ‘n munisipaliteit alle gelde verskuldig, moet verhaal en ‘n kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleid moet daarstel.
Hierdie artikel is een gebied waarin munisipaliteite op gereëlde grondslag faal.
Kredietbeheer beteken nie slegs gelde invorder nie maar ook om dienste te staak waar betaling nie geskied nie. ‘n Verweer wat gereeld deur munispaliteite geopper word, wanneer afskrywings van verskuldigde gelde gemagtig word, is dat dit nie invorderbaar is nie. Indien afsnydings toegepas word, sal uitstaande skulde nie oploop nie.
Dit is die munisipale bestuurder se regsplig om te verseker dat kredietbeheer toegepas word (sien art. 100). Versuim kan lei tot strafregtelike vervolging soos sal blyk wanneer die MFMA bespreek word.
20. Artikel 97 bespreek die inhoud van ‘n kredietbeheerbeleid waaronder een van die belangrikste punte die inperking of opskorting van dienste is.
21. Artikel 98 stel dit duidelik dat ‘n bywet afgekondig moet word en indien dit nie gedoen is nie, kan die begroting heel moontlik op hierdie grond verwerp word.
22. Artikel 99 maak voorsiening daarvoer dat die kredietbeheer beleid deur die politieke vleuel gemonitor moet word.
23. Hoofstuk 10, Artikels 105 – 107 maak weer voorsiening daarvoor dat die provinsiale en nasionale regering toesig moet hou dat munisipaliteite reg funksioneer.
Om hierdie rede is dit belangrik om ‘n papierspoor te vestig deur enige aksie geneem aan die LUR vir plaaslike regering en die minister van finansies skriftelik te rapporteer.
Daar rus ‘n regsplig op provinsiale en nasionale regering om toe te tree, Hierdie word op gereëlde basis nie nagekom nie. Dit is noodsaaklik dat indien dit op hofsake uitloop, daar bewyse voorgelê kan word dat provinsiale en nasionale regering kennis gedra het dat die munisipaliteit nie sy regsplig nagekom het nie.
24. Artikel 119 maak dit ‘n kriminele oortreding vir ‘n raaadslid of raad indien hy/hulle sou inmeng sodat die munisipale bestuurder nie sy regsplig in terme van die MSA kan nakom nie. Ingelyks is dit ook ‘n kriminele oortreding as die munisipale bestuurder toegee aan druk deur ‘n raadslid of die raad. Beide oortredings is strafbaar met twee jaar tronkstraf.
.
Die Municipal Finance Management Act, wet 56 van 2003 (MFMA)
25. Artikel 5 stel dit duidelik dat beide die nasionale en provinsiale tesourier ‘n wakende oog oor die finansies van ‘n munisipaliteit kan hou en daar moet op die inhoud van hierdie artikel gelet word.
Weereens, veral as dit oor finansies gaan, moet enige onreëlmatighede in die finasies van die munisipaliteit met al drie instansies naamlik plaaslik, provinsiaal en nasionaal opgeneem word.
26. Hoofstuk 4 van die MFMA hanteer die opstel en goedkeuring van ‘n munisipale begroting.
27. Artikel 15 stel dit duidelik dat, tensy andersins bepaal in die MFMA, ‘n munisipaliteit slegs uitgawes kan aangaan in terme van ‘n goedgekeurde begroting en binne die perke van die posnommer (vote number).
28. Artikel 16 skryf voor dat ‘n munisipaliteit voor die aanvang van die nuwe finansiële jaar (Julie – Junie), die begroting moet goedkeur.
Die burgemeester moet die begroting ten minste 90 dae voor die aanvangs van die finasiële jaar ter tafel lê.
29. Artikel 17 stel duidelike riglyne en formaat daar waaraan ‘n begroting moet voldoen.
29.1 dit moet realistiese verwagte inkomste daarstel in elke inkomste bron.
29.2 uitgawes toewys onder die onderskeie posnommers
29.3 uiteensit wat die geprojekteerde inkomste en uitgawes is vir die twee jaar wat onmiddellik op die begrotingsjaar volg.
29.4 uiteensit wat
29.4.1 die geprojekteerde inkomstes en uitgawes per pos vir die huidige finansiële jaar is asook
29.4.2 die werklike inkomste en uitgawes vir die vorige jaar
29.5 die begroting moet ingedeel word in bedryfs- en kapitaal gedeeltes
29.6 die volgende dokumente moet die begroting vergesel, nl
29.6.1 konsep besluite wat moet insluit goedkeuring van die begroting, die daarstel van enige munispale belastings asook enige munispale dienste wat benodig word vir die begrotingsjaar asook enige ander aangeleenthede wat mag voorgeskryf word.
29.6.2 meetbare prestasiedoelwitte vir inkomste uit elke pos in die begroting inagnemende die GOP.
29.7 die projeksie van kontantvloei per inkomstebron, afgebreek in maandelikse inkomste
29.8 enige wysigings in die GOP.
28.9 enige wysiging aan die munispaliteit se begrotingsbeleid
28.10 besonderhede van die munispaliteit se beleggings
29.11 enige allokasies of skenkings deur die munisipaliteit aan ander munisipaliteite, enige staatsinstellings en enige organisasies vermeld in artikle 67(1)
29.12 Die uitgawes verbonde aan die salarisse, toelaes en voordele van alle politieke ampsdraers, raadslede, die munisipale bestuurder, hoof finansiële beampte, elke senior bestuurder en enige amptsdraers wie vergoeding ontvang gelyk of groter aan ‘n senior bestuurder.
30. Artikel 18 stel dit duidelik dat uitgawes slegs uit realistiese verwagte inkomste, opgehoopte inkomste van vorige jare, wat nie vir ander doeleindes geoormerk is nie, en fondse geleen vir kapitaaluitgawes, gefinansier mag word.
(Indien die munisipaliteit dus fondse leen om dienste te lewer wat nie kapitaalbeleggings is nie, sal dit nie regsgeldig wees nie.)
Verwagte inkomste moet realisties wees inaggenome die insamelingsvlakke tot datum en werklike inkomste in vorige jare.
31. Artikel 19 gaan oor kapitaalprojekte en mag alleen spandeer word indien
31.1 die gelde toegeken is in die kapitaalbegroting
31.2 die kostes goedgekeur is deur die raad
31.3 die oorsprong van die befondsing oorweeg is en dit nie elders toegewys is nie
31.4 Indien die kapitaaluitgawe oor meer as een finansiële jaar strek, moet die finansiële implikasies inaggeneem wees.
31.5 Alvorens ‘n munisipaliteit ‘n kapitaalprojek goedkeur, moet inaggeneem word die verwagte kostes oor die finansiële jare tot die projek in bedryf gestel word sowel as toekomstige bedryfskostes, inkomste uit die projek insluitende munisipale belastings- en tarief implikasies.
32. Artikel 20. Die minister van finansies tesame met toepaslike kabinetministers verantwoordelik vir plaaslike regering, kan sekere voorskrifte vir die begroting voorskryf.
Hiervoor kan die webwerf van die Department of Finance onder die hoof “MFMA” besoek word vir riglyne wat daargestel is sodat die nasionale ekonomiese beleid wat veral gemik is op inflasie, geadministreerde pryse en gelykheid nie wesenlik en onredelik benadeel word nie.
33. Artikel 21 is van belang vir alle gemeenskapsgebaseerde organisasies. Dit stel die riglyne daar vir die opstel van die begroting.
33.1 Ten minste tien maande voor die aanvang van die nuwe begrotingsjaar moet ‘n tydskedule in die raad ter tafel gelê word, wat die volgende datums aandui : voorbereiding, ter tafel lê en goedkeuring van die begroting; die jaarlikse hersiening van die GOP en die begrotingsverwandte beleid; die ter tafel lê en goedkeuring van enige wysigings aan die GOP en die begrotingsproses.
Hier moet beklemtoon word dat hierdie proses deursigtig moet wees en dat daar met erkende gemeenskapsorganisasies gekonsulteer moet word.
34. Artikel 22 stel dit duidelik dat sodra die begroting voor die raad dien, dit tesame met die nodige stawende dokumente aan die gemeenskap beskikbaar gestel moet word om geleentheid te gee om voorstelle aangaande die begroting te maak.
35. Artikel 23 stel dit duidelik dat die raad (gedurende ‘n volle vergadering van die raad) die insette van die plaaslike gemeenskap moet bespreek. Na die bespreking daarvan moet die burgemeester ‘n kans gegun word om op die voorstelle te reageer en indien nodig die begroting dienooreenkomstig te wysig en die wysiging ter tafel te lê.
Hierdie bepaling word dikwels nie deur die munisipaliteit nagekom nie. Om vas te stel of voorstelle van die gemeenskap deur die raad bespreek is, kan die notules van die raadsvergaderings, wat ‘n openbare dokumente is, geraadpleeg word.
Indien geen bespreking plaasgevind het nie, is dit ‘n regsgeldige grond om die begroting te verwerp.
Weereens is die belangrik om ‘n papierspoor daar te stel en indien moontlik bewys van aflewering van voorstelle te bekom.
36. Artikel 24 stel dit duidelik dat die begroting ten minste dertig dae voor die aanvang van die nuwe boekjaar voor die raad moet dien. Dit moet ook voor die aanvang van die nuwe boekjaar goedgekeur word deur ‘n meerderheid van die raad.
Enige besluite aangaande die toepassing van enige belasting, tariewe, meetbare bestuursuitkoms van elke inkomste bron, GOP sowel as enige wysings aan die begrotingsbeleid moet ook deur ‘n raadsbesluit bekragtig word.
37. Artikel 25. Indien ‘n munisipale raad nie die jaarlikse begroting goedkeur nie, moet ‘n verdere vergadering binne sewe dae belê word om die begroting goed te keur. Hierdie proses moet herhaal word totdat die begroting goedgekeur is.
Indien die begroting nie voor die begin van die nuwe finansiële jaar goedgekeur is nie, moet die burgemeester dit aan Dept. van Finansies van die provinsie rapporteer.
38. Artikel 26 stel dit duidelik dat indien ‘n munisipaliteit versuim om ‘n begroting goed te keur voor die aanvang van die nuwe boekjaar, die provinsie moet toetree in terme van artikel 139(4) van die grondwet van Suid Afrika, deur enige nodige stappe te neem om te verseker dat die begroting of inkomste genererende maatstawwe goedgekeur word. Dit mag insluit die ontbinding van die raad en die aanstelling van ‘n administrateur totdat ‘n nuwe raad verkies is en ‘n tydelike begroting goedgekeur is.
Dit blyk duidelik dat die provinsie nie aan enige wetgewing moet voldoen nie waneer dit ‘n tydelike begroting goedkeur nie.
Indien die raad ontbind is, moet die begrotingsproses van voor af begin en moet aan al die normale vereistes voeldoen word behalwe dat die tydperke moontlik verkort kan word.
39. Artikel 27 maak voorsiening daarvoor dat die burgemeesster die provinsiale dept van finansies skriftelik in kennis moet stel waar onder andere nie aan die goedkeuringsvereistes van die begroting voldoen word nie.
In geval van die nie nakoming van die goedkeuring van die begroting voor die aanvang van die nuwe boekjaar, kan die LUR vir finansies op goeie gronde die versuim goedkeur. Dit moet egter binne ‘n voorgeskrewe raamwerk geskied en aan die Nasionale Tesourie gerapporteer word.
Dit dien egter gemeld te word dat nie nakoming van enige artikel in hierdie hoofstuk, dws artikels 15 – 34 of enige ander wet, nie die regsgeldigheid van die begroting aantas nie.
Hierdie bepaling behoort egter regsongeldig verklaar te word deur ‘n hof, aangesien dit beteken dat ‘n munisipaliteit geen ag aan die wetgewing hoef te slaan nie en nogtrans ‘n regsgeldige begroting kan opstel.
40. Daar moet ook ag geslaan word op die bepalings van die “Municipal Fiscal Powers and Functions Act”
Die hef van grondbelasting val buite hierdie wetgewing
Die wet maak voorsiening vir die heffing van ‘n “municipal surcharge” (Heffing) wat gehef word op die basiese munisipale tariewe. Die tariewe sluit fooie in wat werklike kostes dek vir grootmaat aankope van bv. water en elektrisiteit; oorhoofse-, bedryfs- en onderhoudskoste, kapitaalkostes en ‘n redelike opbrengs indien gemagtig deur die reguleerder of die minister
Ander belasting soos gemagtig mag ook gehef word.
Die munisipaliteit moet aan sekere bepalings, soos in die wet uiteengesit, voldoen alvorens ‘n belasting gehef mag word.
Wat vir die belastingbetalers verenigings egter van belang is, is dat enige heffing of belasting (behalwe grondbelasting) gemagtig moet word deur die minister van finansies.
Enige heffing of belasting wat in werking was voor die wet in werking getree het, verval twee jaar na inwerkingtreding, tensy dit weer gemagtig word deur die minister.
Enige heffing of belasting na die inwerkintreding van die wet, moet deur die minister gemagtig word alvorens dit in werking gestel kan word.
Indien hierdie bepalings nie nagekom is nie, is die heffing of belasting nie regsgeldig nie.
41. Wat betref grondbelasting het alle vergunnings, ten opsigte van die waardering
van grond, verval. Met ander woorde indien daar nie ‘n waardasie onder die “Municipal Property Rate Act” gedoen is nie, is die begroting nie regsgeldig nie.
Sien in hierdie verband die webwerf van die Dept of Finance onder MFMA.
Indien die begroting vir die nuwe boekjaar om een of ander rede nie goedgekeur word nie, verval die vorige tarief. Dit beteken egter nie dat u vrygestel word van grondbelasting nie. Grondbelasting is in een paaiement betaalbaar en die maandelikse afbetaling daarvan, is slegs ‘n vergunning. As die begroting dus in Desember sou goedgekeur word, kan die grondbelasting vir die hele boekjaar in ses paaiemente verhaal word.
Tags: municipal budgets, Municipalities