It has been officially confirmed that cutting off electricity for municipal rates arrears is illegal. This announcement was made this week by the South African energy regulator, NERSA. This means that all municipalities that cut off electricity because of rates disputes were acting illegally. The fines to municipalities who transgress are quite severe, and this has left the municipalities open to a number of class actions. Full story below:
Munisipaliteite bots met wet oor dié afsny
2009/07/31 Sake24
Antoinette Slabbert
Munisipaliteite wat volhard om verbruikers se krag af te sny omdat betalings vir ander dienste agterstallig is, kan reuse-boetes opgelê word.
Volgens die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) mag munisipaliteite nie elektrisiteit weerhou van verbruikers weens skuld vir ander dienste nie. Dít word volgens ’n Nersa-woordvoerder egter wyd en syd gedoen, selfs in groot metro’s soos Kaapstad, Johannesburg en Tshwane.
In die jongste voorval is lasbriewe vir die inhegtenisneming van die munisipale bestuurder, burgemeester en finansiële hoof van die Umsobomvu-munisipaliteit in Colesberg in die Noord-Kaap uitgereik omdat hulle ’n hofbevel wat dié praktyk verbied, glo ignoreer.
Nersa sê dit is onwettig om krag van verbruikers te weerhou weens ander uitstaande rekenings en ook ’n verbreking van munisipaliteite se lisensievoorwaardes as elektrisiteitsverspreiders.
Nersa kan, as hy klagtes oor sulke optrede kry, ’n tribunaal saamstel om dit te ondersoek en ’n kennisgewing op die oortreder bedien om dit reg te stel.
As die oortreder dié kennisgewing ignoreer, kan ’n boete van tot 10% van die munisipaliteit se omset of R2 miljoen opgelê word – watter een ook al die hoogste is.
Die Colesberg Aksiegroep onder voorsitterskap van mnr. Johan Mathee het op 30 Junie die plaaslike landdroshof genader nadat vyf van sy arm lede se voorafbetaalde krag afgesny is. Luidens hofstukke het dié mense agter geraak met betalings op ander munisipale dienste soos water en erfbelasting.
Hulle het egter gebruik gemaak van voorafbetaalde elektrisiteit, waarvoor hulle kontant betaal het.
Weens die uitstaande skuld op ander dienste het die munisipaliteit egter dié krag afgesny.
Die Aksiegroep het aangevoer dat die munisipaliteit ingevolge die Wet op Munisipale Stelsels nie mag voortgaan met kredietbeheermaatreëls teen inwoners wat, soos die Aksiegroep, ’n dispuut met hulle verklaar het nie.
Verder is dit ’n oortreding van die Wet op Elektrisiteitsregulering, het die inwoners aangevoer.
Volgens die Aksiegroep het die munisipaliteit bloot gesteun op bepalings van die Wet op Munisipale Stelsels, waarvolgens dienste weerhou of beperk kan word vir wanbetalers en ’n betaling deur so ’n persoon gekrediteer kan word teenoor ’n uitstaande munisipale rekening. Hulle het volgens die inwoners egter nie rekening gehou met die bepalings van die Wet op Elektrisiteitsregulering nie.
Dié interdik is toegestaan.
Toe die hof vandeesweek moes besluit of die interdik ’n finale bevel gemaak word, het die Umsobomvu-munisipaliteit openbaar dat hy op 15 Junie, twee weke voor die aansoek aanvanklik aangehoor is, munisipale regulasies gepubliseer het wat glo sy optrede magtig.
Die saak is toe onbepaald uitgestel om die Aksiegroep se regsverteenwoordigers kans te gee om op dié verwikkeling te reageer.
Die interdik bly intussen staan, maar volgens Mathee steur die munisipaliteit hom nie daaraan nie.
- Nersa het aan Sake24 bevestig dat munisipale regulasies altyd ondergeskik is aan nasionale wetgewing en nie die weerhouding van elektrisiteit kan wettig nie.
Tags: Cut offs