Nuus berig – Bedrog en wanbestuur

‘Verdagte transaksies’ kos munisipaliteit R40 m.
Jul 07 2009                             Volksblad
Earl Coetzee

Meer as R40 miljoen van die Mohokare-munisipaliteit – wat Smithfield insluit – het luidens ’n verslag van die ouditeur-generaal (OG) in verdagte transaksies tussen Maart 2002 en Oktober 2007 verlore gegaan.

’n Gedeelte van dié miljoene het luidens die verslag in drie werknemers se persoonlike bankrekeninge beland.

Die aankoopamptenaar, vaardigheidsontwikkelingsbeampte en die loonklerk is by dié transaksies betrek.

Hulle het glo onder meer fakture, afdrukke van fakture, duplikaat-reis- en -verblyfeise van ander werknemers en ander bedrieglike transaksies gebruik om die oordrag van onbekende bedrae na hul persoonlike bankrekeninge te maak.

Die munisipaliteit kon ook nie die nodige fakture of ander ondersteunende dokumente vir transaksies wat derduisende rande beloop, lewer nie. Sonder dié dokumente kon uitgawes soos eise vir reis- en verblyf en selfs salarisse nie as eg beskou word nie.

Die munisipale bestuurder is al in Januarie 2006 in ’n amptelike brief van die OG gewaarsku oor die aantal personeellede wat toegang tot die elektroniese geldoordragfasiliteite van die munisipaliteit het.

Ses maande later is hy weer skriftelik deur die OG se kantoor gewaarsku oor beweerde ongemagtigde transaksies en dat die voormalige finansiële hoofbeampte van die munisipaliteit steeds ’n aktiewe gebruiker van dié fasiliteit was.

Volksblad is in besit van die OG se verslag en dit ontbloot honderde verdagte transaksies.

Hieronder tel: ) 362 verdagte elektroniese oorplasings na vier persoonlike rekeninge van die aankoopamptenaar. Die totale bedrag beloop R1 026 498. ) 173 verdagte transaksies na drie rekeninge van die vaardigheidsontwikkelingsbeampte, ter waarde van R92 580. ) 71 transaksies na twee rekeninge van die loonklerk, ter waarde van R7 030.

Die transaksies was moontlik omdat die aankoopamptenaar die wagwoorde gehad het van albei persone wat nodig is om ’n transaksie goed te keur.

Volgens dié amptenaar was die munisipale bestuurder en die waarnemende finansiële hoofbestuurder bewus hiervan. Hulle het hom glo soms gevra om betalings namens hulle te doen.

Die vaardigheidsontwikkelingsbeampte het ook erken dat hy deur die aankoopamptenaar genader is om inligting oor tydelike werknemers aan hom te verskaf, in ruil vir geldoorplasings na sy persoonlike bankrekening.

Die loonklerk het erken dat sy twee bankrekeninge het, waarin munisipale geld betaal is.

Sy het egter ontken dat sy met die aankoopamptenaar saamgesweer het om die munisipaliteit te bedrieg.

Benewens dié was daar ook ander verdagte transaksies, waarvoor geen stawende dokumente beskikbaar is nie.

Dit sluit betalings aan die voormalige munisipale bestuurder, die voormalige burgemeester en die waarnemende finansiële bestuurder in.

Gevalle van ongetekende uitgawestate en state wat deur die verkeerde persone geteken is, kom ook wyd voor.

Die regte tenderprosedures is ook dikwels nie gevolg nie en sommige betalings is gemaak sonder dat oorspronklike fakture aan dokumente geheg is, soos vereis word.

Die totale bedrag betrokke by dié ondersoek beloop meer as R40 miljoen. Dié verslag volg op ’n ondersoek deur die OG nadat verskeie klagtes van moontlike ongerymdhede in November 2006 ontvang is.

Mnr. Sello Dithebe, Cope-woordvoerder, het gister ’n verklaring uitgereik waarin hy sterk kritiek lewer op die bedrog en die plaaslike regering se onvermoë om die skuldiges aan die pen te laat ry.

Die woordvoerder van die Mohokare-munisipaliteit was teen druktyd nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.