05/07/2009 Rapport
Oorloggie kom tussen minister en munisipaliteite oor dienste
Erna van Wyk
Johannesburg
Met sowat twee jaar oor voor die volgende plaaslike verkiesing is die slagorde opgestel tussen die departement van koöperatiewe regering en tradisionele sake en die munisipale rade.
Genoeg is nou genoeg vir die nuwe minister, mnr. Sicelo Shiceka. Hy het dit die afgelope week duidelik gemaak dat hy nie lakse raadslede of munisipaliteite wat in totale verval is, gaan duld nie.
Daar is reeds ’n woordestryd tussen Shiceka en die premier van Noordwes, me. Maureen Modiselle, nadat die minister ’n brief aan haar geskryf het en haar gemaan het om ernstige stappe te doen omdat die plaaslike regering in dié provinsie besig is om in duie te stort.
Modiselle het teruggekap en gesê sy is maar slegs ’n maand in dié pos en het tyd nodig om hieraan aandag te gee.
Shiceka het onlangs gesê hy gaan die “koorleier” van plaaslike regering wees en ’n wesenlike verskil in dienslewering maak.
Kenners is egter nie so optimisties nie.
“Die grootste probleem lê by finansiële bestuur, projekbestuur en kompetisie tussen politieke partye vir korttermyn- politieke voordeel, veral in die komitees van die plaaslike rade,” sê prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa.
’n Tekort aan kundige personeel met gespesialiseerde kennis en ervaring is ook ’n groot probleem.
Hy glo ook nie protesaksies teen dienslewering gaan munisipaliteite oorhaal tot aksie nie.
“Let op die groot verskil in die stempersentasies van algemene verkiesings (75%) teenoor plaaslike verkiesings (50%). Die ANC kry nog baie steun omdat mense glo die party gee hulle toegang tot ’n loopbaan in die openbare sektor of tot ekonomiese bemagtiging.”
Volgens Kotzé het frustrasies oor dienslewering tot nou toe nog nie oorgegaan in drastiese aksies dat dit ’n direkte politieke invloed het nie – soos dat dit kiesers se stemkeuse beïnvloed.
Kotzé sê Shiceka se departement kan wys hulle is ernstig oor dienslewering deur direk op te tree teen korrupte amptenare, oneffektiewe burgemeesters en raadslede af te dank en waar nodig, regstreeks betrokke te raak by die bestuur van sekere munisipaliteite.
Gemeenskappe se protesaksies sal volgens Kotzé waarskynlik nie afneem nie, maar faktore soos die ekonomiese krisis, elektrisiteitstariefverhogings en verandering in die gehalte van dienslewering sal dit beïnvloed.
Die afgelope week het inwoners in Piet Retief en Lydenburg verskeie betogings gehou wat tot geweld oorgegaan het.
Volgens nog ’n kenner, wat anoniem wil bly omdat hy ’n munisipale bestuurder is, is dienslewering haglik by baie munisipaliteite.
“G’n wonder die publiek is moedeloos nie. Hulle sien die leefstyl van die raadslede, maar daar is nie behoorlike dienste nie.”
In sy begrotingsrede het Shiceka gesê sy departement poog om teen 2011 klagtes oor dienslewering aansienlik te verminder, om munisipale skuld, wat al op R41 miljard staan, beduidend terug te sny en om bedrog tot die minimum te verlaag.
Tags: Rapport, service delivery