The NTU has published guidelines whereby a ratepayers association can reject a municipal budget:
In u verwerpings brief kan u eis dat die munisipaliteit skriftelik bewys moet lewer dat aan elkeen van die vereistes, wat in die dokument vervat is, aan voldoen is.
In baie gevalle sal dit binne u persoonlike kennis val aan watter vereistes nie voldoen is nie en kan u dit alreeds as gronde vir die verwerping van die begroting gebruik.
In terme van artikel 12 van die “Municipal Property Rates Act” Wet 6/2004 verval die tarief (grondbelasting) indien ‘n begroting nie goedgekeur is nie of verwerp is Dit het die effek dat, ongeag die waarde van ‘n eiendom, daar hoegenaamd geen grondbelasting gehef kan word deur die munisipaliteit nie. Die vorige tarief is ook nie van toepassing nie aangesien die wet baie duidelik is dat ‘n tarief slegs vir een jaar geldig is. Waar ‘n begroting nie geldig is nie moet die Provinsie intree. Slegs nadat die Provinsie ingetree het kan die tarief weer in werking gestel word. Dit kan enige periode van drie tot twaalf maande wees. Of die tarief dan met terugwerkende krag van toepassing gemaak kan word is twyfelagtig aangesien dit eers in werking tree nadat die Provinsie die begroting goedgekeur het en dit nie noodwendig van terugwerkende krag sal wees nie.
Aangesien dit egter die beleid van die NBU is om verantwoordelik op te tree en omdat ons ook besef dat geen munisipale dienste gelewer kan word sonder inkomste nie stel ons voor dat die inwoners slegs die eiendomsbelasting wat die vorige jaar gehef is saam met die ander dienste gelde in die trust rekening inbetaal.
Die grootste ekonomiese bedreiging wat die land tans in die gesig staar is weghol inflasie of selfs nog erger stagflasie (inflasie sonder groei)
Inflasie het hoofsaaklik drie komponente nl.
1. Ingevoerde inflasie soos bv. olie pryse. Dit is iets waaraan die gewone man en derhalwe die munisipaliteite niks aan kan doen nie.
2. Kos inflasie. Weereens is dit ‘n wêreldwye probleem en alhoewel die nasionale regering iets daaromtrent sou kon doen mbt. die ondersteuning van die boere, is dit buite die beheer van munisipaliteite en derhalwe die NBU.
3. Geadministreerde pryse:
i) Elektriese krag voorsienings pryse. Dit is veroorsaak deur die onbevoegde en onbekwame bestuur van ESKOM. Aangesien die NBU nog nie op nasionale vlak opereer nie is ons tans nog magteloos om iets daaraan te doen.
ii) Die verhoogde rentekoerse wat inflasionisties is en wat tans groot ellende onder die algemene publiek veroorsaak. Weereens is dit iets wat op nasionale vlak aangespreek sal moet word en is die NBU nog tans nie op daardie vlak bedrywig nie.
iii) Onrealistiese verhogings van pryse en belasting vir munisipale dienste. Dit is die vlak waarop die NBU met die deelnemende dorpe/stede tans bedrywig is.
Ons houding is dus om inflasie te bekamp sal daar geen verhoging in eiendomsbelasting betaal word nie. Slegs die verhogings in dienste gelde sal aanvaar word wat die gemiddelde verhoging in inflasie op plaaslike vlak onder die huidige landwye inflasie koers sal afbring. Dit is in lyn met die voorgestelde riglyne van Goewerments kennisgewing 1172 en 1173 van die Minister van Provinsiale en Plaaslike Regering asook die beleid van die Reserwe Bank om inflasie weer onder 6% te bring.
Daar moet egter goed besef word dat daar ‘n berekende risko aan verbonde is nl. dat die bedrag wat die munisipaliteite gaan hef tov. eiendomsbelasting nie die bedrag is wat die inwoners in die trustfonds gaan inbetaal nie. As ons egter in gedagte hou dat in die geval van Warrenton in 2006 die inwoners juis ‘n dispuut met die munispaliteit verklaar het oor die verhoging van 400% in eiendoms belasting en dit na twee maande se weerhouding skriftelik afgebring is na 10 % en in die geval van Barkley – Wes, Delportshoop en Windsorton die verhoging van 135% na ‘n jaar se weerhouding afgebring is na 20% en al die rente afgeskryf was, dan dink ons dat die risko wat ons loop ‘n redelike berekende risiko is.
Die praktiese situasie sal wees dat u almal aan u inwoners sal kan sê ” Neem deel aan ons aksie en betaal verlede jaar se eiendomsbelasting of neem nie deel nie en betaal die verhoogde bedrag aan die munisipaliteit ! “. U kan uself indink wat die reaksie van die inwoners gaan wees. Dit gaan so ‘n vloedgolf wees van mense wat gaan aansluit dat ons met die finansieële mag in die hande sal sit en die dienste self sal kan verrig indien ons daartoe gedwing word
Die beoogde vasmaak van die eiendoms belasting sal nie die lewering van munisipale dienste in gevaar stel nie want slegs deur behoorlike bestuur en voorkoming van vermorsing van geld op onnodige projekte en oormatige salarisse aan onbekwame en onbevoegde personeel en raadslede asook behoorlike krediet beheer sal die munisipaliteite in staat stel om met gemak binne hulle begrotings, sonder die verhoogde belastings, te kan opereer.
NASIONALE BELASTING BETALERS UNIE Besware teen begrotings en gevolglike afkeur en verwerping van die munisipale begroting
Die opset en doelstelling van hierdie handleiding is om gemeenskappe in staat te stel om beswaar aan te teken waar ‘n munisipaliteit nie die bepalings van die letter van die wet nakom nie en om sodoende die begroting te stuit.
Waar daar na wetgewing verwys word sal dit soos volg wees
1 Local Government:Municipal Property Rate Act 6/2004=MPRA
2 Local Government:Municipal Systems Act 32/2000=MSA
3 Local Government:Municipal Finance Management Act 56/2003= MFMA
4 Municipal Fiscal Powers and Functions Act 12/2007=MFPF
5 Electricity Regulation Act 4/2006=ERA
Dit is egter duidelik dat in die grondwetlike bedeling waarin ons ons nou bevind, dat munisipaliteite tog aan sekere vereistes moet voldoen onder andere andersins is die begroting nie regsgeldig nie.
GRONDBELASTING
Die beleid en vasstelling van munisipale grondbelasting is in die “Municipal Property Rate Act “32/2000 vervat
1 Samesprekings met die gemeenskap om hul insette te verkry welke blyk in meeste gevalle nie gedoen te wees nie(Art 4 MPRA). Waar u in kommunikasie is met ‘n munisipaliteit is en veral waar ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar is behoort u ‘n erkende gemeenskap organisasie te wees en moet hulle u beraadslaag alvorens die begroting goedgekeur word. Die sogenaamde ‘roadshows” is nie voldoening aan die wetgewing veral as daar nie ‘n notule gehou word van die vergadering wat dan deur die munisipaliteit op die begroting vergadering bespreek moet word. Sien 2 hieronder.
2 Die besware te bespreek op ‘n raadsvergadering waar ‘n notule gehou word. (Art 4(3) MPRA). Die aanbevelings van die gemeenskap te aanvaar of te verwerp,
3 Om ‘n tarief beleid te bepaal en dit moet die begroting vergesel (artikel 3 MPRA),
4 ‘n Munisipaliteit moet ‘n bywet aanneem waarin die tarief beleid uiteengesit word. (Artikel 6 van die MPRA)
5 “n Tarief vir grondbelasting is alleenlik vir ‘n jaar geldig en verval op die einde van die boekjaar waavoor dit uitgevaardig is. (Artikel 12 van die MPRA) Indien die munisipaliteit dan vir welke rede ookal nie ‘n tarief afkondig voor die aanvangs van die nuwe boekjaar welke van Julie –Junie van die daarop volgende jaar strek, geld die vorige boekjaar se tarief dus nie en is geen grondbelasting hefbaar nie tot tyd en wyl die LUR ‘n tarief bepaal.
6 Dit moet voldoen aan die bepalings van hoofstuk 4 van die MFMA, welke later hierin bespreek word.
7 Die raadsbesluit moet in die provinsiale staatskoerant asook op die webwerf gepubliseer word (Artikel 14 van die MPRA) Indien daar nie aan hierdie vereistes voldoen word nie veral publikasie in die staatskoerant is daar nie aan wets vereistes voldoen nie en is die begroting onwettig.Voorvalle het wel voorgekom waar die begroting nie op die webwerf voorkom nie.
8 Die Minister van Finansies kan die verhoging van tariewe beperk . Sien artikel 20 van die MPRA
9 In die geval van landelike gebiede moet die munisipaliteit verskeie maatreëls nakom. (Artikel 15(2)(d) van die MPRA) Alhoewel nie eintlik bespreekbaar onder hierdie hoof is dit duidelik dat u die minister van provinsiale en plaaslike regering kan nader en sê dat die verhoging onbillik en onredelik en dat dit nadelig is, artikel 16(2) van die MFMA mits u die minister kan oortuig dat dit die beleid in subartikel (1) beïnvloed:
10 ‘n Munisipaliteit moet ‘n register van eiendomme opstel,(artikel 23 van die MPRA) en dit moet op die webwerf wees Art 21 B MSA.
11 ‘n Waardasierol is slegs geldig vir vier jaar en kan vir ‘n verdere tydperk van een jaar verleng word deur die LUR vir plaaslike aangeleenthede onder sekere omstandighede. (Artikel 32 van die MPRA) Indien die waardasie rol dus ouer is as 4 jaar en die LUR nie die nodige toestemming verleen het is die begroting teen opsigte van die gronbelasting dus nie regsgeldig nie.
TARIEWE
Die bepalings aangaande die vasstelling van tariewe is vervat in die Munisipale Stelselswet no 32 van 2000.
1 ‘n Munisipaliteit bestaan uit die politieke strukture en administrasie van die munisipaliteit en die gemeenskap van die munisipaliteit. (Artikel 2 van die MSA)
2 ‘n Munisipaliteit finansier die bedrywighede van die munisipaliteit deur die hef van fooie vir dienste en die hef van heffings op fooie, belasting op grond en tot die mate gemagtig deur nasionale wetgewing ander belastingsheffings en aksyne (artikel 4(c). Sien egter die bepalings van “Municipal Fiscal Powers and Functions Act” wet 12/2007 welke van toepassing is op munisipale heffinngs op tariewe en munisipale belastings anders dan grondbelasting welke deur die “Municipal Property Rates Act” gereguleer word en munisipale basiese tariewe welke deur die MSA gereguleer word. Vir die hef van enige belasting behalwe heffings op tariewe moet die munisipaliteit die Minister van Finasies nader vir toestemming vir alle vorms van belasting. (Art 2 van MFPF)
3 Vir heffings op basiese diens tariewe sien artikel 8 en 9 van die MFPF.
4 ‘n Munisipaliteit moet
4.1 die gemeenskap aanmoedig om betrokke te wees;
4.2 die beste belange van die gemeenskap op die hart dra;
4.3 toesien dat dienste finansieel en omgewings houdbaar is;
4.4 ‘n veilige omgewing daarstel,
4.5 ontwikkeling aanmoedig en onderneem. (Artikel 4(2))
4.6 die gemeenskap raadpleeg oor die graad, kwaliteit, omvang en impak van munisipale dienste.
5 Die gemeenskap het egter regte en verpligtinge
5.1 om ‘n bydrae te maak in die besluit nemings proses van die Munisipaliteit;
5.2 om mondelinge of skriftelike aanbevelings, vertoe, versoekskrifte en klagtes te maak;
5.3 om antwoorde aan hulle mondelinge of skriftelike vertoe aan te moedig;
5.4 om in kennis gestel te word van besluitneminge van die munisipale raad welke hulle regte; eiendomme of redelike verwagtinge aantas;
5.5 om gereelde verslaglewering oor die aktiwiteite van die munisipaliteit insluitentd sy finansies. (artikel 5 van die MSA).
6 Die munisipaliteit het weereens sekere verpligtinge teenoor die gemeenskap naamlik
6.1 moet erkenning gee aan die behoeftes van die gemeenskap;
6.2 moet ‘n kultuur van openbare diens en verantwoording onder dienare fasiliteer;
6.3 moet korrupsie voorkom;
6.4 moet duidelike verhoudinge met die plaaslike gemeenskap ontwikkel en samewerking fasiliteer en kommunikasie tussen dit en die plaaslike gemeenskap bevorder;
6.5 moet die gemeenskap van volle en akkurate inligting voorsien aangaande die vlak en standaarde van dienste wat hulle geregtig is om te ontvang en
6.6 moet die plaaslike gemeenskap inlig oor hoe die munisipaliteit bestuur word, van die kostes betrokke en die persone in beheer.(Artikel 6 van die MSA)
7 Vir die doeleindes van hierdie oefening is die bepalings van hoofstuk 4 van die MSA van kardinale belang en is dit vervat in artikels 16 -22 van die MSA
8 Artikel 16 van die MSA stel dit duidelik dat daar ‘n regsplig is om ‘n kultuur van gemeenskap betrokkenheid te ontwikkel in die voorbereiding, implementering en hersiening van die geintegreerde ontwikkeling plan, die vestiging, implementering en hersiening van die uitkoms bestuurstelsel , die monitering en oorsig oor die prestasie insluitend die gevolge en impak van die prestasie en die voorbereiding van die begroting. (Artikel 16 MSA)
9 ‘n Munisipaliteit moet voorsiening maak vir die plaaslike gemeenskap om betrokke te wees in die doen en late van die munisipaliteit en vir hierdie doeleindes moet voorsiening gemaak word vir
9.1 ontvangs ,prosessering en nabetragting van petisies en klagtes ontvang vanaf die gemeenskap;
9.2 kennisgewing en openbare kommentaar waar van toepassing;
9.3 openbare vergaderinge en verhore wanneer van toepassing;
9.4 raadpleging sessies met erkende plaaslike organisasies, waarvan ‘n
belastingsbetalers vereniging ‘n erkende organisaie moet wees, wanneer
toepaslik; en
9.5 terugvoering aan die plaaslike gemeenskap. (Artikel 17(3) MSA)
10 n Munisipaliteit moet voorsiening maak
10.1 dat die gemeenskap kennis dra van vergaderinge van die munisipaliteit; (Artikel 19 MSA)
10.2 alle vergaderinge van die munisipaliteit moet oop wees vir die gemeenskap behalwe wanneer dit redelik is om agter geslote deure te vergader gegewe die aard van besigheid wat bespreek word en waar ‘n bywet die raad magtig om die vergadering agter geslote deure te hou;(artikel 20(1) MSA);
11 Die gemeenskap mag nie uitgesluit word waneer daar oor die volgende aangeleenthede nabetrag of gestem word;naamlik
11.1 ‘n beoogde bywet;
11.2 ‘n begroting;
11.3 ‘n beoogde geintegreerde ontwikkelings plan of enige wysiging daartoe;
11.4 ‘n munisipale beoogde uitkoms bestuurstel “performance management “
stelsel of ‘n beoogde wysiging daartoe;
11.5 ‘n besluit om ‘n dienslewering ooreenkoms te sluit; en
11.6 enige ander aangeleentheid voorgeskryf deur regulasie. (Artikel 20(2)MSA)
12 ‘n Munisipaliteit moet wanneer enige wet bepaal dat dit kennis moet gee dit publiseer dit doen in die volgende mediums naamlik;
12.1 in die plaaslike koerant of koerante;
12.2 in ‘n koerant wat in die gebied versprei word;
12.3 deur middel van rado uitsendings wat die gebied van die munisipaliteit dek;
(Artikel 21 MSM) en op die amptelike webwerf van die munisipaliteit.
(Artikel 21B MSA). Gevalle het voorgekom waar ‘n munisipaliteit versuim
het om op die webwerf te adverteer wat sal meebring dat die munisipaliteit
versuim het om aan die vereistes aangaande advertering te voldoen het veral
in die landelike gebiede waar die boere geen kennis sal dra elders as deur
middel van die webwerf aangesien hulle nie beskikking het tot
koerante,biblioteke of munisipale kantore nie.
13 Waar dokumente openbaar gemaak moet word moet dit deur middel van die volgende gekommunikeeer word naamlik;
13.1 deur dit te vertoon by die munisipaliteit se hoofkantoor ,satelliet kantore en openbare biblioteke;
13.2 deur dit op die webwerf te sit en
13.3 te voldoen aan die bepalinge van artikel 21 van die MSA. Sien paragraaf 12 hierbo.(Artikel 21A MSA)
14 Verder moet ‘n munisipaliteit voldoen aan die bepalings van hoofstuk 5 van die
MSA aangaande die geintegreerde ontwikkelings plan welke ‘n integrele deel van die
begroting is aaangesien dit moet uiteensit welke ontwikkeling hulle beoog en waar
hulle die fondse vandaan kan bekom. Dit is van kardinale belang dat u ‘n afskrif van
dit bekom om die munisipaliteit se nakomming daarvan te bepaal. Omdat ons egter
hier oor die tariewe gaan sal dit nie bespreek word nie. Dit moet egter jaarliks hersien
word.
15 Munisipale dienste moet prioriteit gee aan die behoeftes van die gemeenskap, die
ontwikkeling van die gemeenskap bevorder en verseker dat alle lede van die
gemeenskap toegang het tot die minimum van basiese dienste.(Artikel 73 MSA)
16 Munisipale dienste moet
16.1 onpartydig en toeganklik wees
16.2 voorsien word in so ‘n wyse dat dit bevordelik is tot verstandige, ekonomiese en effektiewe benutting van beskikbare bronne bevorder en lei tot die
verbetering van standaarde oor tyd,
16.3 finansieël houdbaar wees;
16.4 gereeld hersien word met die doel om dit op te gradeer, uit te brei en verbeter.( Artikel 73 MSA)
17 ‘n Munisipaliteit moet ‘n tarief beleid aanneem en implementeer aangaaande die
heffing van fooie vir munisipale dienste welke moet voldoen aan die bepalinge van
die MSA, die MFMA en enige ander toepaslike wetgewing. Die Ordinansies van die
voormalige provinsies Transvaal, Natal, Oranje Vrystaat en die Kaap Provinsie en
sal nog geld behalwe waar die MSA, MFMA en MPRA van toepassing is waar die se
bepalings sal geld as wette van nasionale toepassing daargestel om eenvormigheid
landwyd te stel.(Artikel 74 MSA)
18 ‘n Tariefbeleid moet ten minste aan die volgende vereistes voldoen naamlik
18.1 verbruikers moet gelykwaardig behandel word in die toepassing van tariewe;
18.2 die bedrag wat ‘n individu betaal vir dienste moet in die algemeen
proporsioneel wees tot die benutting van daardie diens;
18.3 arm huishoudings moet toegang he tot basiese dienste deur middel van
(i)tariewe wat slegs bedryfs en instandhoudings koste dek;
(ii)spesiale tariewe of leeflyn tariewe wat voorsiening maak vir lae vlakke of verbruik van dienste of vir basiese vlakke van dienste; of
(iii)enige ander direkte of indirekte metode van subsidering van tariewe vir
arm huishoudings.
18.4 tariewe moet die redelike koste wat gepaard gaan met die lewering van die diens reflekteer welke sal insluit kapitaal, bedryfskoste, onderhoudskoste, administrasie, vervanging en rente koste.
18.5 tariewe moet op ‘n vlak gestel word wat die finansiele houdbaarheid van die diens rugsteun, welke egter rekenskap moet hou met subsidering van elders as die diens self;
18.6 voorsiening kan in gepaste omstandighede gemaak word vir ‘n heffing op die toepaslike tariewe vir daardie diens;
18.7 voorsiening mag gemaak word vir die opheffing van plaaslike ekonomiese
ontwikkeling deur spesiale tariewe vir kategories van kommersiele en
industrieele verbruikers.
18.8 die ekonomiese, doeltreffende en effektiewe benutting van bronne, die herwinning van afval en ander toepaslike omgewings bewaring moet aangemoedig word; en
18.9 die omvang van subsidieëring van armoedige huishoudings en ander
kategorieë van verbruikers moet in volle besonderhede verstrek word.
18.10 n’ Tariefbeleid mag onderskei tussen verskillende kategorieë van
verbruikers, skuldenaars, diensverskaffers, dienste, diens standaarde, geografiese gebiede en ander kategories solank dit nie neerkom op onbillike diskriminasie.(Artikel 74 MSA)
19 Bywette moet uitgevaardig word deur die munisipaliteit om implimentering en
afdwinging van hul tarief beleid af te dwing.(Artikel 75 MSA)
20 Bywette mag onderskei tussen verskillende kategories van verbruikers,
diensverskaffers, diens standarde en geografiese gebiede mits sulke onderskeid nie
neerkom op onbillike diskriminasie.(artikel 75 MSA)
21 ‘n Munisipaliteit het ‘n algemene bevoegdheid om fooie te hef en te vorder ten
opsigte van enige funksie of diens van die munisipaliteit en om invorderingkostes en
rente te verhaal.(Artikel 75A MSA). Magtiging om fooie of tariewe te bepaal word
verleen deur ‘n raadsbesluit geneem gerugsteun deur ‘n meerderheids besluit.
22 Nadat ‘n raadsbeluit geneem is om gelde te hef moet dit vir te minste dertig dae vir
inspeksie by die hoofkantoor en satelliet kantore asook openbare biblioteke vir
inspeksie lê, in ‘n koerant wat plaaslik versprei word geadverteer word en die datum
vermeld wanneer dit in werking sal tree.
23 In terme van die definisie vervat in die MFMA word “budget related policy”
gedefineer as die tarief beleid wat die munisipaliteit moet aanneem in terme 74 van
die MSA, die tariefbeleid wat dit moet aanneem in terme van die MPRA en ‘n krediet
beheer beleid in terme van artikel 96 van die MSA. Indien een van hierdie aspekte
ontbreek sal die begroting heel moontlik ontgeldig wees.
24 Die vereistes aangaande begrotings in die MFMA word vervat in hoofstuk 4.
25 ‘n Munisipaliteit mag slegs behalwe waar andersins bepaal in die MFMA uitgawes
aangaan in terme van ‘n goedgekeurde begroting binne die raamwerk van die
verskillende votes.(Artikel 15 MFMA)
26 ‘n Munisipaliteit moet ‘n begroting goedkeur voor die aanvangs van die nuwe
finansieële jaar welke ‘n aanvangs neem van Julie van die huidige jaar tot Junie van die daaropvolgende jaar. (Artikel 16 MFMA)
27 Om aan die bepaling van voorgenoemde artikel te voldoen moet die burgermeester die
begroting ter tafel lê ten minste 90 dae voor aanvang van die nuwe boekjaar.(Artikel
16 MFMA)
28 ‘n Jaarlikse begroting moet in ‘n formaat soos voorgeskryf is vervat wees en die
volgende bevat:
28.1 realistiese verwagte inkomste vir die finansies uit elke inkomste bron;
28.2 die allokering van uitgawes vir die begroting jaar onder die verskeie koste
poste ;
28.3 ‘n uiteensetting van die geskatte inkomste en uitgawes per koste pos vir die daaropvolgende twee jaar.
28.4 ‘n uiteensetting van
(i) die geskatte inkomste en uitgawes per koste pos vir die huidige jaar en
(ii) die werklike inkomste en uitgawes per koste pos vir die vorige
boekjaar,
28.5 ‘n uitensetting van enige ander inligting wat vereis word deur artikel 215(3) van die Grondwet.(Artikel 17 van die MFMA)
29 ‘n Jaarlikse begroting moet ingedeel wees in kapitale en beryfs begroting.(Artikel 17
MFMA)
30 ‘n Begroting moet vergesel word van die volgende dokumente naamlik
30.1 Konsep resolusies welke
(i) die begroting goedkeur
(ii) enige munisipale belasting en tariewe daarstel vir die huidige
boekjaar;
(iii) enige ander aangeleentheid welke voorgeskry is.
30.2 meetbare mikpunte vir inkomste uit elke bron en vir elke stem in die begroting met inagneming van die munisipaliteit se geintegreerde ontwikkelings plan,
30.3 ‘n vooropstelling van die geprojekteerde kontantvloei per inkomste bron
opgebreek in maande;
30.4 enige voorgestelde wysiging in die geintegreerde ontwikkelings plan in
opvolging van die jaarlikse hersiening van die geintegreerde ontwikkelings
plan;
30.5 enige voorgestelde wysiging aan die begroting verwante beleid van die
munisipaliteit;
30.7 besonderhede van die munisipaliteit se beleggings;
30.8 enige voorgeskrewe inligting aangaande munisipale entiteite onder die alleen of gedeelde beheer van die munisipaliteit;
30.9 besonderhede van voorgestelde munisipale entiteite wat die munisipaliteit beoog om te stig of om in deel te neem;
30.10 besonderhede van enige beoogde diens lewering ooreenkomste, insluitend ingrypende wysigings aan bestaande dienslewering ooreenkomste;
30.11 besonderhede van enige beoogde skenkings aan ander munisipaliteite of enige munisipale entiteit of eksterne liggame wat die munisipaliteit bystaan
in die uitoefening van die funksies of magte, enige staatsdepartement of enige liggaam soos vermeld is in artikel 67 van die MFMA;
30.12 die voorgestelde koste van die salarisse toelaes en voordele van elke politikale ampsdraer, die raadslede, die munisipale bestuurder, elke senior bestuurder en enige ander amptenare wat ‘n salaries verdien gelykstaande aan of hoer as die van ‘n senior bestuurder;
30.13 die voorgestelde kostes van salarisse, toelaes en byvoordele van direkteure van ‘n munisipale entiteit asook die hoof uitvoerende beampte en senior bestuurders; en enige ander ondersteunende dokumente wat voorgeskryf is. (artikel 18 MFMA)
31 ‘n Begroting mag slegs befonds word uit realistiese geantisipeerde inkomste wat
ingesamel kan word, kontant oorgehou van vorige jare, fondse nie geoogmerk vir
ander doeleindes en lenings welke slegs vir kapitale werke aangewend mag word;
(Artikel 18 MFMA)
32 Inkomste projekterings in die begroting moet realisties wees in agnemend
geprojekteerde inkomste vir die huidige jaar gebaseer op die invorderings vlakke tot
op datum en werklike inkomste in vorige jare ingesamel. (artikel 18 MFMA)
33 ‘n Munisipaliteit mag slegs uitgawes aangaan teen opsigte van kapitale projekte
wanneer die geld vir die projek, uitsluitend die kostes vir die uitvoerbaarheid
ondersoek, toegeken is in die kapitale begroting, die totale kostes goedgekeur is deur
die munisipaliteit, die bepalings van artikel 33 van die MFMA waar van toepassing
nagekom is en die nodige befondsing beskikbaar is.(Artikel 19 MFMA)
34 Die burgermeester van ‘n munisipaliteit moet :
34.1 die proses vir die voorbereiding van die begroting koordineer en verseker
dat die geintegreerde ontwikkelingsplan en begrotingsbeleid hersien word om te verseker dat die ter tafel geleerde saamehangend is en dat dit nie teenstrydighede vervat nie;
34.2 ten minste tien maande voor die aanvang van die nuwe begrotingsjaar
‘n skedule ter tafel lê waarin uiteengesit word die tydgrense vir die voorbereiding , die ter tafel lê en wanneer die goedkeuring van die begroting moet plaasvind asook die jaarlikse hersiening van die geintegreerde ontwikkelingsplan en die begrotings verwante beleid.
34.3 Die ter tafel lê en aanneem van enige wysigings in die geintegreerde ontwikkelingsplan asook enige wysigings aan die begrotings verwante beleid asook enige konsultasie wat deel daarvan uitmaak;
34.4 Wanneer die jaarlikse begroting oorweeg word moet die burgermeester die volgende in ag neem naamlik
(i) die geintegreerde ontwikkelingsplan; art 21 (2) (a)
(ii) redelike stappe neem om te verseker dat die geintegreerde ontwikkelinsplan aangepas word met in agneming werklike onkoste en uitgawes in toekomstige jare; Art 21 (2) (b)
(iii) Met in agneming van die nasionale begroting, die relevante provinsale begroting, nasionale regering se fiskale en makro ekonomiese beleid en die jaarlikse verdeling van inkomste en enige ooreenkomste bereik in die begroting forum; Art 21 (2) (c)
(iv) Indien die relevante munisipaliteit ‘n distrik munisipaliteit is of deel vorm van ‘n distriksmunisipaliteit moet die distriks asook die plaaslike munsipaliteite mekaar raadpleeg asook die relevante Provinsiale Tesourier en wanneer versoek die Nasionale Tesourie asook enige Nasionale of Provinsiale Staats liggaam soos omskryf is. Art 21(2)(d)
(v) Voorsien op aanvraag enige inligting verwant aan die begroting aan die Nasionale Tesourie en onderworpe aan enige beperkings wat omskryf mag wees, aan die nasionale departemente veranwoordelik vir water, elektrisiteit, sanitasie en enige ander diens soos neergelêen aan enige munisipaliteit beinvloed deur die begroting. Artikel 21 (2) (e)
35 Wanneer die begroting ter tafel gelê word moet die munisipale raad (die definisie van
munisipale raad maak dit duidelik dat dit die raadslede is en nie die amptenare) enige
sienswyse van die gemeenskap oorweeg asook die van die Nasionale en Provinsiale
Tesourier en enige ander nasionale of provinsiale department wat voorleggings
gemaak het oorweeg waarna die burgermeester ‘n geleentheid gegun moet word om te
reageer op die submissies en indien nodig die begroting te hersien .(Artikel 23
MFMA) Indien u dus voorleggings aan die munisipaliteit gemaak het en dit nie in die
raad bespreek is nie is daar ‘n moontlikheid dat die begroting ongeldig is omrede
hulle nie ag geslaan het op die besware welke bepaling gebiedend is.
36 Die Nasionale Tesourier mag riglyne uitreik oor die manier wat die munisipaliteite
hulle begrotings moet proseseer insluitent riglyne oor die opstelling van komitees
om die begroting te oorweeg asook oor die hou van openbare verhore. Die riglyne is
egter nie bindend op die munisipaliteit tensy dit deur die munisipaliteit aangeneem
word. (Artikel 23 MSMA)
37 Die munisipale begroting moet ten minste dertig dae voor die aanvangs van die
finansieële jaar voorgelê word vir goedkeuring. (Artikel 24(1)) MFMA)
38 ‘n Jaarlikse begroting moet voor die aanvang van die begroting jaar goedgekeur word;
en word goedgekeur deur aanneming deur die raad van die besluite geneem in terme
van artikel 17 (3)(a)(i);
Die begroting moet goedgekeur word tesame met die aanname van enige besluite wat:
38.1 wat munisipale belastings vir die boekjaar daarstel;
38.2 wat munisipale tariewe vir die jaar daarstel;
38.3 wat meetbare doelstellings daar te stel vir die meet van inkomste uit
die bron vir elke pos in die begroting;
38.4 elke verandering aan die geintegreerde ontwikkelingsplan goedkeur; en
38.5 goedkeuring verleen aan enige veranderinge aan die munisipaliteit se begroting verwante beleid.
39 Indien ‘n munisipaliteit sou versuim het om ‘n begroting goed te keur 90 dae voor die
begin van die nuwe finansieële jaar, insluitende inkomste generende maatreels nodig om effek te gee aan die begroting, dan moet die raad die begroting heroorweeg, met of sonder wysigings, binne sewe dae nadat die raad versuim het om dit goed te keur. Die proses moet aanhoudend herhaal word totdat die begroting goedgekeur word. (Artikel 25 saamgelees met art 16 van die MFMA)
40 Indien ‘n raad nie op die eerste dag van die nuwe boekjaar die begroting goedgekeur
het nie moet die burgermeester dit onvewyld aan die LUR vir plaaslike regering in die provinsie rapporteer. (Artikel 25 (3) MFMA)
41 Die gevolge van die versuim om ‘n munisipale begroting goed te keur voor die
eerste dag van die nuwe jaar is dat provinsie moet inmeng en enige stappe neem
wat dit nodig ag. (Artikel 26 MFMA )
42 Indien ‘n nasionale of provinsiale regering in terme van ‘n mag omskryf in nasionale of provinsiale wetgewing die boonste limiete van ‘n munisipale belasting of tarief beperk, tree dit in werking op die datum gespesifiseer in daardie besluit. Indien die besluit gepromulgeer is op of voor die 15 Maart van ‘n gegewe jaar dan nie voor I Julie van daardie jaar en indien na 15 Maart van ‘n gegewe jaar dan van 1 Julie die daar opvolgende jaar.(Artikel 44 MFMA)
43 Elektrisiteits tariewe word geruguleer deur NERSA in terme van artikel 4(a)ii en indien ‘n munisipaliteit se tariewe nie deur NERSA goedgekeur is nie is dit ongeldig.
GEVOLGTREKKING
Bogenoemde is ‘n kort opsomming uit die betrokke wetgewing wat die belangrikste bepalings behels maar daar is egter moontlik verdere ander artikels wat van toepassing mag wees. . Probleme met begrotings sal eie wees aan elke dorp maar daar sal egter verskeie punte wees wat gemeen is aan baie dorpe.
Die woord “moet” is gebiedend en oor die algemeen moet die bepalingsvan daardie artikel nagekom soos dit so in die wetgewing voorkom anders kan die begroting nie goedgekeur word nie. .